Give that man a bells

Wanneer ʼn mens die oggendkoerant deurblaai voel jou gemoed soos ʼn lyngrafiek op ʼn bladsy. Daar is momente van vreugde en positiwiteit en dan duik die lyne ver onder zero. Op en af maar vorentoe. Dis een ding van ʼn grafiek. Dit mag ʼn horisontale “zig-zag” verteenwoordig maar dis altyd vorentoe.

Nog ʼn dag, week, maand en jaar en geskiedenis word onafwendbaar geskryf.

Dalk is dit ʼn goeie metafoor vir ons lewe as gelowiges. Vandag in die sewende hemel, more in die dal van doodskaduwee, so beur ons vorentoe.

Immers, in Christus Jesus is “God met ons, Immanuel”  ʼn wonderlike belofte wat ons  ook in krisistye deurdra.

Die afgelope week is Suid Afrika tot stilstand geruk deur die bose verkragting van ʼn sewejarige dogtertjie in ʼn restaurant in Pretoria. ʼn Twintigjarige jongman is in aanhouding. Dit het een van die hartseerwaarhede van Suid Afrika geword. Niemand is meer veilig nie. Jy moet gedurig bewus wees van watter potensiële gevare dreig.

Grootmense kan hulself nog verweer. Kinders is naïef onbevooroordeeld en glo die beste van alle mense. Nou moet ons ten einde hulle veiligheid te verseker al die grootmensevrese wat ons het, op hulle projekteer. Hierdie is maar een voorbeeld van ʼn land wat lank nie meer veiligheid en sekuriteit aan sy kinders bied nie. Dis om van te huil.

Dagga vir persoonlike gebruik is ʼn dom besluit. Die verbod op die gebruik en verbouing van dagga,  weliswaar  binne die sg. gerief van jou eie huis en op grond van die reg om self te besluit mag die toets van die Grondwet nie deurstaan nie, maar die toets van gesonde verstand, slaag dit nie. Dagga word allerweë as die 101 van dwelmmisbruik gesien. Dis ʼn oënskynlik onskuldig maar potensieel ʼn dodelike uitnodiging om verder te eksperimenteer.

Is dit ʼn besluit wat die belange van ons kinders op die hart dra of is dit net nog ʼn voorbeeld van ʼn land wat onveilig geword het vir weerlose kinders? Ek kan my die uitwerking van hierdie besluite op die grootword generasie nie eers voorstel nie. Dalk een van die minder goeie besluite van ons regbank, wie se taak dit is om ons, ja somtyds teen onsself, te beskerm.

Om ʼn stopstraat te respekteer dring eweneens teen my reg op persoonlike keuse in.

Wat is die verskil?

Albei is dodelik gevaarlik.

Die onderskeie ondersoek kommissies vorder oënskynlik met hul verhore van korrupsie van allerlei aard. Die moeisame pas waarmee verhore plaasvind teen koste wat ons sukkelende ekonomie nie kan absorbeer nie, kwel egter. Kenners waarsku dat die pas heeltemal te stadig is. Ons vorige ondermynende staatspresident het helaas nog nie heengegaan nie. Hy en sy genote is berekend besig met hul sinistere ondergrawery. Daar word openlik gekonkel om die goeie bedoelings en werk van mnr Ramaphosa te ondermyn.

Mens wonder boonop  of enige van die skuldige persone iewers tot verantwoording geroep gaan word.

Opskud kollegas!

Van ons huidige staatspresident gepraat, ten spyte van fel kritiek wat na sy kant geslinger word en “Ramaphobia” wat soos mis voor die oggendson verdwyn het, is ek tog van mening dat hy, ook by die VN waar hy tans optree, verdienstelike werk doen. Hy praat soos ʼn staatsman sonder om gedurig keel skoon te maak en na sy notas te verwys. Hy struikel nie oor getalle nie. Daarbenewens gee hy voor ʼn internasionale gehoor, potensiële beleggers en belanghebbende instellings die versekering dat grondhervorming met die nodige verantwoordelikheid sal gebeur.

Ongelukkig is mense in die verlede al so deur leë beloftes teleurgestel dat hy, mnr Ramaphosa,  swaar dra aan die las van agterdog en bevooroordeeldheid.

Maar soos die bekende advertensie sê “give that man a bells”  wil ek sê, “gee daai man ʼn kans!”.

Dit was in die sterfjaar van Ussia, ʼn turbulente en onsekere tyd, dat Jesaja die Here gesien het. Die beskrywing van wat hy aanskou is skouspelagtig.

Jesaja 6: 1-8

In die jaar van koning Ussia se dood het ek die Here gesien. Hy het op ‘n baie hoë troon gesit, en die onderste van sy kleed het die tempel gevul.  By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg.

Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Die hele aarde is vol van sy magtige teenwoordigheid.”

Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geword het.

Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.”

Een van die serafs het toe ‘n gloeiende kool met ‘n tang van die altaar af gevat en na my toe gevlieg.

Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen.”

 Toe het ek die Here hoor vra: “Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?” Ek het geantwoord: “Hier is ek! Stuur my!”

Miskien het ons net weer nodig om God in sy verhewe grootsheid raak te sien.

Hy is steeds op die troon.

 

Groete, Jannie Pelser