Joh. 21:6 Hy sê toe vir hulle: “Gooi die net aan die regterkant van die skuit uit, dan sal julle iets kry.” Hulle het die net toe daar uitgegooi, en vanweë die groot klomp vis kon hulle hom nie weer intrek nie.

Vers 12               

Toe sê Jesus vir hulle: “Kom eet.”

Engels : Have breakfast.

Ai die Here se Woord is merkwaardig. Dis so lekker om telkemale van nuwe aksente bewus te word ongeag hoeveel keer jy die teks al gelees en gehoor het. Vanoggend was dit nie anders nie. Die verhaal van ʼn teleurgestelde klompie dissipels wat besluit om te gaan visvang is bekend. Die hele nag se wag en geduld lewer niks op nie. Jesus staan op die strand en vra of hulle al iets gevang het.

“Nee”, kom die antwoord, “die hele nag se harde werk het niks opgelewer nie”.

“Gooi die nette aan die anderkant en dan sal julle “iets” kry.

Daardie “iets”  verteenwoordig nie minder as 153 volrond visse nie.

Die net is bykans te swaar om te sleep.

By die stand aangekom het Jesus reeds die vuur voorberei. Trouens, daar was reeds vis en brood beskikbaar.

Jesus het vir sy dissipels gereed gemaak.

Hulle bring van hulle vis en geniet waarskynlik ʼn heerlike saamkuier met die Koning van die konings.

Ons is so geneig om ons lewens in geestelike en dan ander kompartemente in te deel. Jesus stel net belang in die geestelike. Die res is onbelangrik, minderwaardig, aards, van verbygaande aard en selfs ʼn mors van tyd. Immers, die wêreld moet gered word.

Sonder om iets weg te neem van die roeping wat op ons lewens rus is die Evangelie omvattend, insluitend, aards, realisties, prakties, mensvriendelik, vervullend en aangenaam.

Dis veronderstel om, sonder om die swaarkry van die lewe te ontken, lekker, genotvol en ontspanne te wees in die teenwoordigheid van die Here en sy Gees.

“Hoe aards” kan ʼn mens redeneer…”come and have breakfast”.

Jesus die hemelse kok.

Regte vis en brood.

By ander geleenthede is Jesus bekommerd oor die skare wat na Hom luister. Dis drie dae en hulle het nog nie geëet nie. “Bring julle vir hulle iets om te eet:, kom dit van Jesus. Vis en brood.

Sal jy nie toelaat dat Jesus jou hele lewe indring nie.

Sit vanoggend, vanmiddag en vanaand aan en dink daaraan dat Jesus die ete voorberei het en gereed staan om jou met sy liefde te dien…sodat ons ander kan gaan dien.

Geniet jou ontbyt.