Die grootste van alles is die liefde
1 Sê nou maar ek is so “geestelik” dat ek die tale kon praat wat die engele in die hemel praat en selfs nog ’n klomp ander, maar ek het nie ander mense lief nie, wat dan? Vir die Here klink daardie “geestelike gepraat” dan na niks anders nie as ’n geraas soos iemand wat teen ’n yster kap.

2 Sê nou ek kan uitstekend preek, is hoog geleerd in die dinge van die Here en verstaan dinge van God wat ander mense nie eens weet nie, en boonop het ek nog die grootste geloof wat jy jou kan voorstel, maar ek het nie ander mense lief nie, is ek vir die Here ’n nul op ’n kontrak.
3 Al gee ek alles wat ek besit vir arm mense en word as martelaar vir die Here verbrand, maar ek het nie lief nie, help dit alles niks.

Wat beteken dit om lief te hê?
4 Om ander lief te hê beteken om nooit iemand sleg te behandel wat jou irriteer nie; om altyd alle mense so te hanteer dat hulle graag by jou wil wees sonder om bang te wees dat jy hulle sleg sal behandel; om ander mense dit wat hulle het of kry te gun sonder om lelik te wees as hulle dinge het wat jy nie het nie; om nie heeltyd oor jouself te praat en te spog nie; om nie heeltyd te maak asof jy soveel beter as ander mense is nie;

5 om nie ongeskik te wees nie, maar jou so te gedra dat ander nie ongemaklik saam met jou voel nie; om nie net heeltyd aan jouself en jou eie voordeel te dink nie; om nie sommer vir niks kwaad te word nie, en om nie elke liewe dingetjie wat iemand verkeerd doen te onthou sodat jy hom kan terugkry nie.

Die liefde het grense
6 Maar liefde het ook grense: liefde kan nooit kant kies vir dinge wat verkeerd is nie. Net so sal liefde altyd net bly wees oor dit wat regtig gebeur soos God dit bedoel het.

7 Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g’n einde nie.

8 Liefde is nie iets wat ’n mens kan opgebruik en dan sê dis klaar nie. Maar die spesiale geskenke wat die Gees aan mense gee, soos om God se Woord oor te dra of in “spesiale tale” te praat, of om dinge van die godsdiens te verstaan waarvan ander nie veel weet nie, dit sal nie vir altyd hou nie. Daar sal ’n tyd kom wanneer die Gees dit nie meer vir mense sal gee nie, omdat dit nie meer nodig sal wees nie.

9 Ons weet in elk geval nou nie alles nie en wat ons vir julle van God se wil vertel, is ook nie alles wat daar is om te weet nie.

10 Daar sal ’n tyd kom wanneer alles volmaak sal wees soos God dit bedoel het. Dan sal die dinge wat God net ’n tydjie wou gebruik het, nie meer nodig wees nie. Dit is eintlik maar so met ’n mens ook.

11 Toe ek klein was, het ek nie soos ’n grootmens gepraat nie, maar soos ’n kind. Ek het ook gehou van dinge waarvan kinders hou en graag daaroor gepraat. Ek kon ook nie verstaan waaroor die grootmense praat nie, want ek het deur die oë van ’n kind na dinge gekyk. Maar toe het ek grootgeword en dit alles het verander. Die dinge wat vir my as kind so belangrik was, is nou nie meer vir my belangrik nie. Ons is nou nog eintlik maar in ons geestelike kinderskoene.

12 Ons kan nie alles van God verstaan nie. Dit is of ons in ’n blinkerige stuk staal na onsself kyk. Ons kan nie alles mooi uitmaak wat ons sien nie. Maar die tyd kom wanneer ons alles helder en duidelik sal sien asof dit reg voor ons staan. Nou maak ons maar stuk-stuk uit van God en alles wat Hy vir ons doen en beteken. Daar kom egter ’n tyd wanneer ek alles sal weet, net soos God nou alles van my af weet.

13 Tot daardie tyd kom, het ons drie belangrike dinge wat ons op koers moet hou: daar is die verhouding met God, die sekerheid dat Hy sy beloftes sal hou en die liefde. En van hulle staan die liefde boaan die lys.