Doen dit nou

Op die kombuiskas lê ʼn kleurvolle uitnodiging na ʼn skoolrevue aan die einde van September. Ek neem kennis van die datums en besluit om die uitnodiging met dank te aanvaar. Dit is asemrowend wat skole deesdae op hul verhoë opvoer. Dit kan somtyds met produksies in ons bekende teaters vergelyk word. n Pluimpie vir onderwysers.

Toe Suzette by die huis kom vra ek haar hoe die uitnodiging by ons uitgekom het waarop sy antwoord “dit was verlede jaar se revue”.

O gaats!

Amper daag ek op vir iets wat reeds plaasgevind het.
Die gedagte wat by my opkom is dat ons ʼn afspraak met God kan misloop omdat dit reeds plaasgevind het by wyse van spreke. Hoe dikwels wil die Here ons gebruik, met ons praat, Homself aan ons openbaar, ons iets in die oor fluister maar ons daag nie op vir die afspraak nie? Teen die tyd dat die Here ons aandag het is die oomblik verby, het Hy iemand anders gebruik of selfs meer ontstellend, is daardie saak nie afgehandel nie omdat ek nie beskikbaar was nie.

Ek glo stellig dat omdat God ons so uniek en onherhaalbaar gemaak het daar dinge is wat nét ek en jy kan doen. Die Here vertrou ons daarmee en as ons dit nie doen nie bly dit as “onafgehandel” agter ons naam staan.
Miskien is dit waarvan 1 Kor. 3 praat.

Die kwaliteit van ons dienswerk sal die vuurtoets móét deurstaan.

Waartoe roep die Here jou vandag?
Jy kan nie eers more opdaag om die taak uit te voer nie.
Die oomblik is verby.

Terloops, ons wás by verlede jaar se konsert en dit was soos altyd baie spesiaal.

Groete, Jannie Pelser