Dit hang af hoe jy kyk

Ons drink vroegoggend koffie terwyl ons die voëltjies dophou wat aansit vir die vrugte en saad wat ons die vorige dag uitgesit het. Ons het jare gelede ʼn stomp opgetel met strategiese gleuwe en wat ʼn funksionele “bird feeder” vorm. ( Enige voorstelle om die woord in Afrikaans te vertaal?)

Voëltjies het die gewoonte om die saad met hul bekkies te sorteer sodat jy naderhand ʼn groot neerslag op die grond ( ons stoep) het. Sommige eet van die stomp af en ander kuier lekker op die grond.

My opmerking toe ek die klompie op die grond sien is wat die vrou aan Jesus in Matteus 25 gesê het ( gaan lees gerus weer die konteks)

Hy sê vir haar: “Dit is nie mooi om die kinders se brood te vat en vir die hondjies te gooi nie.” waarop haar antwoord was

“Dit is waar, Here,” sê sy, “maar die hondjies eet darem van die krummels wat van hulle base se tafels afval.” (vers 27)

My bedoeling dat die voëltjies op die grond eet wat van die tafel afgeval het. Oorskiet by wyse van spreke, krummels.

Suzette, my beter helfte, korrigeer my en verwys my na

Ps. 23.
“U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid.”

Die bedoeling is dat daar soveel kos is dat dit rojaal op die grond beland.

Het jy vandag ʼn krummels of oorvloed ingesteldheid?

JOHANNES 10:10
‘n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.
God sorg rojaal, al eet jy van die grond af.