Die vyand in die spieël.

Weereens verwys ek na ʼn ontstellende rolprent wat ek onlangs gesien het. Die hoofkarakter leef te midde van gevoelens van minderwaardigheid en verwerping.

Hy pas nie in by die geykte definisies nie. Hy worstel en stry met God en dra selfs ʼn toonbeeld van sy eie worsteling, ʼn foto, in sy Bybel. Dis binne die kontoere van die Bybel se boodskap dat hy sukkel om homself te definieer.

Een aand val sy lewe heeltemal uitmekaar. Hy strompel na die dominee se woonplek en vra na die sin van die lewe.

“Wat wil jy hê” vra die man van God.
“Om aanvaar te word” volg die antwoord.
“Deur wie” wil die dominee weet.
“Ander” kom sy antwoord en hy konkretiseer dit in verskillende groepe mense en kontekste.
Die dominee is nie tevrede nie.
“Wie se aanvaarding” wil hy weer ʼn keer weet.
“Myself” kom die antwoord.

Min van ons hou van wat ons in die spieël sien.
Ons wou anders kyk, dink, aanmekaar gesit wees.
Selfaanvaarding neem ʼn leeftyd. Die man in die spieël is die eintlike vyand. Ons vind eers vrede wanneer ons vrede maak met die unieke mens wat terugkyk.
God het nie fout gemaak nie.

Dit beteken nie dat Hy ons nie voortdurende meer en meer verander na die beeld van sy Seun nie.
Essensieel egter is daar net een van my en dit met ʼn rede.

Hoe lank gaan ons nog baklei met die man en vrou wat ons aangluur as ons in die spieël kyk?
Mag daar vir jou vrede kom.

Groete, Jannie Pelser