Die goorste dag?

Volgens ene dr.Cliff Arnall, ʼn Britse sielkundige sou 21 Januarie regtig ʼn goor dag wees. Hy het met behulp van ʼn ingewikkelde formule tot die slotsom gekom dat dit inderdaad die goorste dag van die hele jaar sal wees. “ Benarde geldsake, lae motiveringsvlakke en mislukte Nuwejaarsvoornemens is van die aanleidende oorsake. Gelukkig is 21 Januarie reeds verby.

Hoe was jou dag gewees?

Kinders van die Here leef ietwat anders. Die Bybel sê “This is the day that the Lord has made, we will rejoice and be glad in it”.

Ps. 118:24 24 
Dit is die dag wat die Here gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees.

Elke dag is ʼn genadegawe uit die hand van die Here. As jou naam nie in die “in memoriam” kolom van die plaaslike koerant verskyn nie (het mos vroeër jare doodsberigte gepubliseer) is jy nog springlewendig.
Ek hou van die woord, springlewendig. Miskien moet ons ʼn slag ʼn lewenssprong gee net om te beleef dat ons inderdaad nog deel het aan hierdie werklikheid.

As jy te oud is vir ʼn sprong miskien jou arms in die lug swaai maar iets doen om die lewe te vier. Uit jou maag lag, jou verwonder aan die skoonheid van ʼn roos, heerlike kerrie diep ruik, koffie saam met vriende te geniet, ʼn romantiese aand saam met jou geliefde, enige iets, solank jy die lewe vier.

Die Bybel sê ken Hom in al jou wee en Hy sal jou paaie gelyk maak.

Skud af die swaarmoedigheid. Die slegste dag van 2019, basta. Dan le daar merkwaardige dinge voor.

PSALMS 4:9
Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon.

Groete, Jannie Pelser