Daar kom ʼn “dag zero”

Die waterkrisis in die Kaap is bekend. Die van ons wat geseënd is met genoeg bekostigbare water kan jouself dit nie voorstel dat jy in ʼn ry moet gaan staan en wag dat jou waterrantsoen vir die dag aangevul word nie. Mag die Here ons broers en susters, trouens die hele gemeenskap in die droogte geteisterde gebiede begenadig. Mag die sluise van die hemel open. God is nie gebonde aan seisoene nie en is in staat om wonderbaarlik te sorg.
Die Kaapse stadsowerhede waarsku die gemeenskap dat  “dag zero” nader kruip. Die situasie is krities en die laaste klompie water wat in die reeds bykans leë damme oor is kan nie gebruik word nie.
Burgers word reeds beperk in die hoeveelheid water wat hulle per dag mag gebruik. Patricia de Lille het verskeie kere, gisteraand weer op TV nuus gewaarsku dat die dag naderkom en selfs vervroeg mag word. Sy waarsku dat daar steeds baie mense is wat hulle nie aan die beperkings steur nie en effektief water “verduister” as ʼn mens so iets kan doen.
Dag zero is ʼn dag waarop uiters dramatiese maatreëls in plek sal moet kom terwille van oorlewing. As ʼn mens die berigte lees kan jy jouself dié situasie nie indink nie.
Dag zero bring baie ongerief en opoffering. Daar is geen omkeer as dag zero aangebreek het nie tensy dit deurdringend reën.
In oordragtelike sin het ek gewonder oor mense wat waarskuwings doodgewoon ignoreer wanneer dit by hul eie lewens kom. Die tekens is daar. As jy so aangaan kom daar ʼn dag waarop jy ʼn duur prys gaan betaal. As jy betyds tot inkeer kom kan dit afgeweer word. Desnieteenstaande gaan “baie” mense voort met hul onverskillige leefwyse.
Hulle dink nie aan omdraai en terugdraai nie. Hulle oorweeg nie die dag van afrekening nie. Hulle glo dat die waarskuwings maar net skyn verteenwoordig en dat iemand iewers die lewe onnodig wil kompliseer. Die spreekwoordelike wolf wolf hoe laat is dit is gepas.  Iewers word die skaap middagete.
Weet nie hoe dit met jou gesteld is nie.
Jy mag nie roekeloos met jou lewe of die van ander mense handel nie.
Om in Kaapstad ten spyte van waarskuwings en maatreëls steeds water willens en wetens te vermors is selfsugtig. Dit het ʼn invloed op ander mense se lewens.
Niemand leef op ʼn eiland en alleen nie.
Om met jou lewe willens en wetens onverskillig te handel is selfsugtig. Benewens jyself gaan ander mense daaronder ly.
Waarom daardie pad loop?

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}