Beginsels vir ‘n gelukkige lewe

1.       Omarm die lewe

Vraag:
• Wanneer is ʼn mens gelukkig?
• Is jy gelukkig?
• Wat beteken geluk?

PSALMS 128:2

Die vrug van jou arbeid sal jy geniet, gelukkig en voorspoedig sal jy wees.

Ons almal wil sinvol, vervuld en betekenisvol lewe, kortom, ons wil gelukkig wees. Dis mos ook van jou waar?

Baie jare gelede het, terwyl ek op ʼn slegte plek in my lewe was en gesmag het na innerlike vrede en geluk, ʼn mede dissipel, goedbedoel, maar baie oortuig vir my gesê dat God nié belangstel in ons geluk nie.

Dit het min bygedra om my reeds stukkende menswees op koers te kry.

Gelukkig weet ek vandag van beter, en net in geval jy ook soekend is stel ek dit sonder om te twyfel en op gesag van die Skrif  – jou geluk is vir God belangrik.

Hierdie week wil ek graag ʼn paar beginsels vir ʼn gelukkige lewe met jou deel.

Vandag – omarm die lewe, dis kosbaar. 

Mens kan gelukkig wees te midde van minder ideale omstandighede.

Die manne wat op straathoeke allerlei snuisterye verkoop is dikwels vir my ʼn aansporing en voorbeeld. Ek het nog nooit een teëgekom wat my afgejak het omdat ek nie in sy produk belangstel nie. Dis is meermale ʼn beleefde glimlag voordat hy na die volgende voertuig loop. 

Dan is daar die manne met die bordjies. Ai, dis hartseer. 

Ek ken mense met min geld, maar baie vreugde, mense met min aardse besittings, maar gelukkig.

Ek ken mense met min geleerdheid, maar opgewonde. 

Ek het al by baie beddens gebid waar daar geen hoop meer is nie, maar ʼn aansteeklike tevredenheid.

Die teenoorgestelde is ook waar. Ek ken mense met baie aardse besittings maar siels-ongelukkig.

Natuurlik is daar nie fout te vind met aardse skatte nie. 

Die Bybel leer ons egter dat ons skat in die hemel moet wees waar geen mot en roes verniel nie. Dit beteken uiteraard nie dat ons nie moet aspireer en hard werk om ʼn bevredigende  lewenskwaliteit te hê nie.

Wat dit presies behels verskil van mens tot mens. 

Dit gaan oor die lewe as geskenk van God. Op aarde eenmalig, dit word nooit weer herhaal nie.

MATTEUS 6:25

“Daarom sê Ek vir julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die liggaam as klere nie?

Daar is mense wat die lewe as sodanig tot vyand verklaar het. Hulle verwens hul geboortedag soos Job. Toegegee, Job se swaarkry was buitegewoon maar om die lewe tye verwens los niks op nie.

Omarm die lewe as buitengewoon kosbaar. 

Ervaar die wonder van elke asemteug, beweging, gedagte en drome.

Ervaar die onskuld van ʼn kind. Hy weet sy Vader sorg vir hom. Bekommernis bestaan nie want daar is ʼn ma en pa wat sorg.

Kry klaar met negatiewe gedagtes wat jou hele menswees vergiftig.

Los iets vir God, moenie probeer om alles op te los nie.