Beginsels vir ʼn gelukkige lewe

  • Laat die Here jou skud

Ek het die groot voorreg gehad om in Hartswater Pinksterdienste te hou. Die Here was goed en getrou en ek ry vanoggend huis toe. Verlang darem nou net te veel.

Die plaaslike leraar, ds. Martin Coetzer het my soggens aan sommige van die gemeentelede gaan voorstel waaronder verskeie boere. Die omgewing produseer ʼn gawe verskeidenheid produkte en water word op indrukwekkende wyse uit die Vaalhartswaterskema voorsien.

Daar word onder andere pekanneute geproduseer en dit is ʼn interessante aangeleentheid. Vroeër dae moes die ryp neute van die boom geskud en van die grond af opgetel word. Nou met tegnologiese hulpmiddele word bykans alles met masjinerie gedoen, die bome word selfs so gesnoei.

Martin was baie opgewonde dat ek sal sien hoe die vrugte van die bome af geskud word met die hulp van tegnologie. Iets soos ʼn knyptang vou om die onderste deel van die boom en begin hom dan skud. Sowat van skud het jy nog nie beleef nie. Dit is asof daardie plant tot in sy wese geskud word en in die proses val alles, nie net die vrug nie maar ook dooie blare en takkies van die boom af tot op die grond. Enkele oomblikke later staan die boom daar gestroop van alle bagasie. Klaarblyklik is dit ook baie goed vir die wortelstelsel.

Soms het die Here nodig om ons te skud. Ons dra te veel bagasie wat die reis vermoeiend maak. Ons energie, fisies, emosioneel en selfs geestelik word getap en ons het min om te wys. Ek wonder stellig of God nie besig is om die geloofsgemeenskap in Suid Afrika ʼn bietjie te skud nie.

Die kerk het so ʼn skud nodig. Ons is altoos besig met goed wat met die essensie van die Evangelie min te doen het. Terwyl ons stry gaan die wêreld letterlik en figuurlik verlore.

Miskien wil jy die Here vra vir ʼn genadige skud. Hy doen dit sagkens maar help jou om vry te kom van onnodige laste. Onvergewensgesindheid, vooroordele, bitterheid, vooroordeel, kritiek en agterdog is van die dinge waarvan ons gerus maar kan vrykom.

Mag jy die Gees se skud beleef.