Beginsels vir ʼn gelukkige lewe – 4

– Omarm die lewe, dis ʼn geskenk van Bo (Kyk terug op Toekomsvenster)
– Droom groot (kyk terug)
– Maak klaar met gister (kyk terug)

Vandag:
– Beleef die oomblik ( dis al wat ons regtig het!!)

Ons lewe tussen gister en more.

Gister is verby, vir altyd. As gister ʼn goeie ervaring was, wees dankbaar. As dit onaangenaam was, leer ons uit ons en ander se foute en tref reëlings om dit nie weer te herhaal nie.

Daar mag woorde van vryspraak nodig wees, teenoor jouself en teenoor ander, doen dit gou.

Moenie uitstel nie. Gister is verlede, water onder deur die brug, laat dit gaan en geniet die herinneringe.

More lê in die toekoms. Van more weet ons bitter min. Ons weet nie eers of ons dagboekinskrywings sal materialiseer nie.

Jy kan, mag en moet noodsaaklike voorbereidings tref dat more so ver as menslik moontlik goed afloop maar behou nederigheid. My ma het my altyd gemaan om nie te vergeet om te sê “as die Here wil nie” . Hy is die hoofkarakter in alles. “Wat wil U hê moet ek doen” is die vertrekpunt vir alle optrede.

Die Bybel sê moenie oor more bekommer nie. More sal vir homself sorg. God is reeds daar.

Tussen gister en more lê vandag, die hier en nou, eintlik net die oomblik. Ons koppe is gewoonlik eerder by gister of more as vandag, veral nie die oomblik nie.

Dit is soos motor bestuur. Wanneer jy jou bestemming bereik wonder jy hoe jy daar gekom het. Jy onthou min van ratte verwissel, by robotte luier of raaksien wat rondom jou gebeur. Indien wel is dit gewoonlik iets opspraakwekkend, buite die gewone wat die aandag trek. Sirenes wat loei of mense wat by ʼn ongelukstoneel vergader. Dan neem ons waar totdat ons weer in ons outomatiese staat ingly.

Toets jouself aan die einde van die dag, trouens dalk sommer nou. Wat van dit wat deel van jou dag tot hiertoe was het jy beleef?

Ontbyt, het jy dit regtig geproe, die teksture, smaak, vorm en inhoud?

Die groet van jou geliefdes voordat julle die dag individueel aanpak, die omhelsing (was daar een?), die woorde van waardering ( ek het jou lief, of sterkte vir jou dag, of ek dink aan jou),

Die stilstaan by die motorhek terwyl dit toeskuif ( verwondering vir elektriese motors of waardering vir hierdie luukse).

Goed, dis dalk te veel gevra om elke oomblik intens te beleef maar as ons nie iewers begin om iets daarvan te beleef nie, gaan die lewe by ons verby.

So het gister en eergister, die dag van te vore, verlede week, maand…) gekom en gegaan en al wat jy het is die foto’s op jou selfoon.

Die gevoel het jy nooit beleef nie.

Dis ń foto sonder konteks, inhoud, ervaring, warmte en gloed.

Ek weet nie of ek die einde van hierdie dag gaan sien nie, jy ook nie.

Die lewe is onseker, net God leef sonder om te wankel.

Ek het net die oomblik.

Ek moet (gaan) dit beleef.

En JY?