Arrie afbeen


Deur die toedoen van Japie, die parkopsigter by Rainbow Park in Appelpark, het ek vir Arrie ontmoet. Een en twintig jaar gelede het hy sy been verloor nadat hy in ʼn spyker getrap en komplikasies ingetree het. Sedertdien en tot onlangs loop hy op krukke totdat ʼn merkwaardige diensverskaffer (Juandré du Toit en vennoot) aangebied het om vir Arrie ʼn prostese te maak en te borg.


Arrie het sommer uit die staanspoor reggekom met die kunsbeen. Wat ander mense ses maande neem het Arrie oornag bemeester. Die dag toe Arrie uit die motor klim sonder krukke en met sy nuwe ledemaat letterlik dans was baie van Appelpark daar. Die mense het hom toegejuig. Dit was ʼn besonderse oomblik vir die interessante gemeenskap wat met tientalle uitdagings gekonfronteer word.


Arrie het sy droom om weer te kan werk sonder versuim inhoud gegee. Sedert hy sy nuwe vryheid ontvangs het werk Arrie vir ʼn boukontrakteer. Hy doen alles wat ander werkers doen. Twee weke nadat hy begin het, het hy sy eerste aansporingsbonus ontvangs.


Arrie is woordvaardig en het ʼn trotse verlede. Hy het as soldaat gedurende die tyd van verpligte diensplig sy land op die grens verdedig. Sy droom was om medies te studeer. Die amputasie, sonder enige ondersteuning, voorbereiding, begeleiding of omgee het hom in ʼn diepe depressie laat verval. Hy het gewonder of daar uitkoms sal wees. Dit het opgedaag deur die omgee van gewone mense.
Arrie is ʼn dankbare mens. Hy hou nie op dankie sê nie. Hy is produktief en ʼn inspirasie vir die gemeenskap waar talle pragtige jongmense hul dag in die parkie verwyl, sonder werk, aspirasie en motivering. Ons hoop om die jong manne eersdaags op ʼn mannekamp te neem en vertrou die Here vir deurbrake.
Elke mens het potensiaal. Niemand is minderwaardig in God se oë nie.
Op ʼn manier is ons almal kreupel. Elke mens se konteks verskil maar volmaaktheid ontwyk ons in hierdie lewe. Dit kan as verskoning aangebied word waarom jy nie ʼn verskil maak nie. Uiteraard maak dit by God geen haaraf nie.


Arrie is vir ons ʼn voorbeeld. Te midde van gebreke kan elkeen van ons betekenisvol leef.

ʼn voorbeeld. Te midde van gebreke kan elkeen van ons betekenisvol leef.


Arrie bly in ʼn spasie nie groter as 3×3 meter nie. ( ʼn steengeboutjie agter in die erf van familielede)


Daar is vier slaapplekke binne geskep. Hy betaal R400 pm. vir die voorreg.
Sy kunsbeen hang hy saans by die bed op omdat sy goed gereeld gesteel word. Hy maak kos “soos die voortrekkers” sê hy. Buite op die grond pak hy ʼn vuurtjie en kom so oor die weg.
Maar Arrie kla nie. Nie een enkele woord nie.
Arrie begeer om ʼn woonplekkie van sy eie te hê.
Dalk staan daar iewers ʼn wendy huis of iets soortgelyk rond waarin hy ʼn menswaardige bestaan kan voer.


Dalk wil iemand die geld beskikbaar stel om dit te doen.
Sien Arrie Barnard se facebook bladsy en like dit sommer ook
Skakel Madelaine by Toekomsvenster as jy kan help of bydrae

• 011 6652516

Toekomsvenster
Standard Bank
420629645
Key West
Kode 5841



Matt 25:1-13
Vir sover julle dit aan die geringstes gedoen het …
Ps. Daar was twee persone in Appelpark wat beide prostese nodig gehad het. Juandré Du Toit het aangebied om beide gratis te help.


Net Arrie het opgedaag.