Hierdie is ʼn betekenisvolle week vir die Pelsers. Ons word weer grootouers ( Ninquja en Hansie)  en ons ander dogter Sunique het Saterdag verloof geraak aan JP.
Toe dié twee terugkom van die Drakensberge af waar alles gebeur het was die opgewondenheid en bykans naïwe liefde meetbaar en voelbaar.
Hulle het in detail vertel hoe die groot vraag gestel is, baie foto’s en video snitte geneem en vir ure aanmekaar vir Suzette en myself vergas met die detail.
Die bome was nog nooit so groot die blare nog nooit so blink soos dié naweek nie. Die stroompies nog nooit helderder en die kos nog nooit smaakliker nie. Soos Sunique so lekker sê, dis “belaglik” hoe goedkoop dit in die Drakensberge is.
Alles net te wonderlik vir woorde, en ek betwyfel hul belewenis van dié mooi in die lewe nie vir ʼn enkele oomblik nie. Trouens, dit het my effe jaloers gehad.
Suzette ( my engel) sê ek kan romanties nie eers behoorlik spel, wat nog te sê doen nie  (sommer ʼn grappie, to each his own ).
Die opgewondenheid, verliefdheid en betowering het my herinner aan die dag toe ek Jesus ontmoet het. Dit was 26 Februarie 1977. My slaapkamer het op ʼn stoep uitgegaan en ek het daar gaan kniel. Ek het met die Here gepraat oor die lewe én die dood. Ek het vir Hom gesê ek sien nie kans vir één van die twee sónder Hom nie. Ek het gevra dat sy Gees my in besit sal neem en my lewe sal beheers.
Ek weet nie hoe en wat gebeur het nie maar ek het geweet, dinge sal nóóit weer dieselfde wees nie.
My hart kon nie ophou sing nie, ek het Hom gesoek tussen die bladsye van sy Boek, die Gees het my lippe oorgeneem en ek het in lofsang uitgebreek.
Ek was verlief, smoor verlief op die Koning, my Redder en my Vriend.
Dis jare later. 
Ek is steeds verlief. 
Somtyds vergeet ek dan herinner Hy my. 
Ek vind Hom telkens in vers en melodie. 
Gisteraand se opgewondenheid het my herinner aan my eerste liefde.
Ek het weer onthou. 
Ek wil dit nie vergeet nie. 
                
Joh.2:17 Toe het sy dissipels daaraan gedink dat daar geskrywe staan: “Die liefde vir u huis verteer my.”
Ps. 69:10              Want die ywer vir u huis het my verteer, en die smaadhede van die wat U smaad, het op my geval.
En jy? Het jy al vergeet hoe dit voel om verlief te wees op die Koning van die heelal?