Agter Potchie se skilderye
Potchie soos baie ander is bekende en geliefde skilders. Dis
spesiaal om ʼn skildery, al is dit net ʼn afdruk van hul werk in jou huis te hê.
Die kleure en eenvoud van landelike tonele laat ʼn mens verlang na ʼn wêreld wat
ongekompliseerd en maklik lyk. Daar is oënskynlik nie ʼn gejaag soos in die stad
nie. Dis sendingkerkie vertoon idillies teen die blou lug, ʼn mamma stap met
haar twee kindertjies, een aan elke hand op ʼn stofpaadjie en dra ʼn bondel op
haar kop benewens die baba om die middel vasgebind. (Ek skets sommer my eie
toneel).
Dis mooi en kleurvol en besonders – vir ons wat genoeg het
en die skilderye netjies posisioneer sodat almal dit kan raaksien.
Die Potchie skildery is egter iemand anders se realiteit,
heel dikwels ʼn realiteit van te min hê van om van te leef, van armoede en
werkloosheid, van min geleenthede en vergete wees. Dis die realiteit van twyfel
oor die toekoms, wonder wat van jou kinders gaan word, bitter min
infrastruktuur en aanmekaar getimmerte huise. Dis ʼn realiteit van klein skole met
min geriewe, ver ry om inkopies te doen en seisoenale arbeid.
Die mooi skildery is iemand se realiteit.
Natuurlik is die skildery mooi en spesiaal. Ek het ook
daarvan. Na ʼn week in informele nedersettings, die Kaapse vlakte, ʼn reis deur
Suid Afrika se geskiedenis en andere ervarings saam met die Global Prayer
Safari sal ek anders kyk en saggies bid dat God uitkoms sal gee en vra hoedat
die Here ons wil gebruik om mense se lewensomstandighede te verbeter.