1 Mei 2017 – 2 PETRUS 3:9

2 PETRUS 3:9
Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer
Drome het besondere betekenis as ʼn mens net werklik wil verstaan wat dit mag beteken. My wederhelfte vertel my van ʼn droom wat sy gehad het waarin sy  sien hoedat baie mense verdrink.
Terwyl ons na ʼn ete afspraak ry vertel sy my van die droom. Sy vertel dat sy huilend uitroep dat die mense in diep see agter die golwe besig is om te verdrink en gehaal moet word.
Dit het my onmiddellik laat dink aan die taak en rol van die kerk. Mense verdrink spreekwoordelik in omstandighede wat buite beheer geraak het. Hulle is ook meer dikwels self aandadig daaraan. Ongelukkig word ʼn mens gaandeweg en subtiel verstrengel sonder dat jy dit agterkom tot op die dag dat jy probeer vry kom. Die bose laat sy prooi nie so maklik ontsnap nie. Daarvoor het hy met te veel moeite gedoen om so ʼn persoon in sy kloue vas te vang.
Die kerk, uiteraard elke gelowige, het die taak en verantwoordelikheid om sensitief te wees vir die nood van mense rondom ons. Toegegee, die Here roep elkeen van ons vir ʼn spesifieke opdrag wat verband hou met jou besondere gawes, talente en menswees.
Die water anderkant die golwe is onstuimig en bedreigend. Dit kos inspanning, moeite en dissipline om daar uit te kom. Dis soos ʼn lewensredder wat ʼn drenkeling moet gaan haal. Dis passie en omgee wat hom die risiko laat loop.
Hoe belangrik is die redding van mense vir ons?

p.p1 {margin: 0.0px 0.0px 0.0px 0.0px; font: 14.7px Calibri; -webkit-text-stroke: #000000}
span.s1 {font-kerning: none}